Wouter van de Venter

Discography:

Musicians:

  • Wouter van de Venter: vocals, guitars

Biography:

Daar is beslis nog plek vir goeie Afrikaanse partytjiemusiek. Want as daar nou 'n taal is wat kan rock, is dit Afrikaans. Sò sê Wouter van de Venter, 'n opwindende stem aan die Afrikaanse musiekfront.

"Ons het genoeg swaargekry," sê die 29-jarige Wouter. "Dit is tyd dat ons begin partytjie hou." Wouter het pas sy tweede CD, 'Donkerkant', uitgereik en daarop sing hy waarvoor hy bekend is - Afrikaanse rock. "Dalk sal ek rustiger musiek skryf as ek eendag aftree," sê hy, "maar vir eers wil ek rock."

Wouter het nog nooit iets anders gedoen as musiek maak nie. Hy is in Port Elizabeth gebore, het in die Paarl grootgeword en het matriek aan die Hoërskool Waterkloof geskryf. Ná skool is hy na die Pretoriase Technikon waar hy ligte musiek en jazz studeer het.

"Ek het altyd Engelse liedjies geskryf wat in die vullismandjie beland het. Maar een Sondagaand laat het ek 'n Afrikaanse liedjie geskryf en skielik was ek vir die eerste keer in my lewe tevrede met iets wat ek geskryf het. Die liedjie was 'Sondagaand Laat' en is op my eerste CD." Koos Kombuis het 'n groot invloed op sy loopbaan gehad. "Hy is die grootste rede waarom ek in Afrikaans begin skryf het. Met Koos was dit die eerste keer dat jy na 'n vleisbraai kon gaan en net Afrikaanse musiek luister."

Nog 'n kunstenaar vir wie Wouter baie respek het, is Laurika Rauch. "Sy is my Evita," sê hy. Laurika het Wouter by 'n kunstefees gehoor en hom gevra om saam met haar te begin optree. Die uiteinde is 'n werkverhouding waaroor Wouter nie uitgepraat kan raak nie. "Sy hou my in toom, maar gee my ook baie vryheid. Ek het die beste vertonings van my lewe saam met haar gedoen. Sy het my ook baie van teater geleer."

Nog 'n groep saam met wie Wouter gereeld werk, is Beeskraal. "Hulle is besig om die konsertina - of die pomp, soos hulle dit noem - te red. Hulle is my broers in die musiekbedryf. Beeskraal rocks!"

Wouter is baie opgewonde oor wat in Afrikaanse musiek gebeur. "Dit raak net lekkerder," sê hy. "Daar is 'n wonderlike gees onder die kunstenaars en 'n mens kan agterkom daar is werklik lewe in Afrikaanse musiek. Dit is nooit maklik nie, maar die besef dat daar vir jou 'n mark is, maak dit die moeite werd."

"Ek werk ook sam met die ATKV en is betrokke by die Crescendokompetisie. Wat ek in die werkgroepe sien, maak my baie opgewonde. Afrikaanse musiek gaan nog 'n baie lang pad loop."

En as dit van Wouter afhang, gaan ons heelpad partytjie hou terwyl dit gebeur.

Ilza Roggeband

This article originally appeared on the musiek.co.za website. Reprinted from http://www.musiek.co.za with kind permission of Ambrose van Eerden.

Buy MP3s:

Buy South African MP3s from Rhythm Online

Click here to buy MP3s from Rhythm Online


TOPback to where you came from
South Africa's Rock Legends
South African Rock Digest