Boereplaas

Persverklaring: Die Tassenberg Stalteater, KKNK 2002

Geskryf deur Dirk & Annene Uys

Versprei deur Jolindy Greyling, Publisiteit, KKNK.

Dirk Uys Produksies en Boereplaas Plate bied aan:

Die Tassenberg Stalteater, KKNK 2002

Venue: Tom se Meul, Baron von Reedestraat, Oudtshoorn

Datum: Sat. 30 Maart tot Sat. 6 April

Aantal vertonings: 64

Tydsduur: Ongeveer 60 min elk

Program Schedule

Die Plak:

Ons put groot vreugde daaruit om u mee te deel dat die Tassenberg Stalteater hierdie jaar veel groter en omvangryk gaan wees.

Eerstens kon ons daarin slaag om die venue aansienlik te vergroot van 130 sitplekke tot 210. Die nuwe huurders van Tom se Meul was ook gaaf genoeg om vir ons ‘n permanente verhoog te bou en waaiers te installeer wat ventilasie aansienlik sal verbeter. Verder is die aangrensende kombuis, wat voorheen vir ons hoffberekens besorg het, verwyder, was steurnisse en kragprobleme finaal sal elimineer.

Die ander goeie nuus is dat ons die totaal produksies van 49 na 64 vermeerder het. Ons kon ook vanjaar daarin slaag om groepe wat lank laas by die KKNK opgetree het, soos byvoorbeeld Battery 9 en BOO! te akkommodeer. Die fasiliteite vir die opname van die Tassenberg All Stars Live CD’s is ook opgegradeer, om beter klank kwaliteit vir die volgende CD te verseker. Die CD stalletjie sal ook weer spog met ‘n uitgebreide verskeidenheid oorspronklike SA musiek asook Tassenberg T-shirts en hoedjies soos verlede jaar.

Die Baalsaal is ‘n huis met vele kamers om aan die behoeftes van alle feesgangers te voldoen. Daar is kamers vir Blues liefhebbers, Afrikaanse Rockers, Hip Hoppers, Metalheads, Folkies, Monkeypunkers, Popkoppe en Boererockers.

Vir die Blues liefhebbers is daar vanjaar ‘n wonderlike spyskaart met groepe soos die Blues Broers, Delta Blue, Boulevard Blues Band, Frosted Orange asook Piet Botha & Jack Hammer.

Boererockers sal genot put uit groepe soos Valiant Swart, Beeskraal, Akkedis, Karen Zoid, Spinnekop, Wouter van de Venter en Anton Goosen & die Bushrock Band.

Die Baalsaalgangers wat soek na ‘n sprinkel sinisme en batterysuur sal hul fix kry met Battery 9. Talentsoekers sal aangenaam verras wees met Diff-olie, Riku Lätti en Scicoustic. Die popkoppe sal veral BOO! en Sons of Trout se toetrede verwelkom.

Die harde metaal liefhebbers en motoriste wat bestand is teen whiplash sal die bytende metal-rap van Not My Dog in die laataand verfrissend vind.

Met ‘n groter venue, ‘n groter klanklsisteem en beter ligte, beloof die Tassenberg Stalteater om vanjaar weer die bymekaarkomplek van musikante en musiekliefhebbers op die KKNK te wees.

Soos Chutney de Ridder tereg opgemerk het: "As jy eers uitgespan het in Die Stal, bly jy tot jy val!"

Die Kunstenaars:

Die Valiant Swart Band

Die koning van Afrikaanse Rock en sy bende mystic boere is gereed met saalsakke vol nuwe klanke spesiaal vir die Tassenberg Stalteater. Valiant het onlangs teruggekeer van ‘n suksesvolle besoek aan die VSA met ‘n klomp nuwe songs onder sy belt. Oproerige Boland Punk, goedverouderde Wingerdrock en beleë Brandewynblues sal die stal behoorlik laat runnik.

Die paartie begin as die Valiant start!

Anton Goosen en die Bushrock Band

Die immergroen vader van Afrikaanse Folk-Rock is terug in die Stal met ‘n knapsak vol nuwe liedjies.

Sy soveelste album, ‘n Vis Innie Bos, is onlangs bekend gestel, en hy sal ons vergas met liedjies uit die oude doos en ook nuwes vir die prolaktiewes. Goosen se liedjies word kunstig uitgevoer deur die veelsydige Bushrock Band met die alomteenwoordige Schalk Poeierkwas Joubert op baskitaar, Mike Rennie op viool, Lize Swart op stem en Barry van Zyl op dromme.

Piet Botha en Jack Hammer

Die veteraan Blues-Rock Ambassadeurs uit die Noorde is terug in die Stal om hul spesiale plek vol te staan. Piet Botha en Jonathan Martin is die skrywers in die groep wat juwele soos Liberty ,Suitcase vol Winter en Goeienag Generaal op die oor laat val het. Hulle word bygestaan deur Geseënde Tertius op baskitaar en The Duke van de Waal op dromme. Botha sal ook sy nuwe album Die Hits, wat vrygestel is by Aardklop, aan die Oudtshoorn gehoor bekend stel.

Beeskraal

Kraalkarate, Tropmoles en Malkoeisiekte is aan die orde van die dag wanneer Beeskraal die Stal tref.

Hulle naam is Beeskraal, maar hulle sweet soos varke. Met Brahmaan op kitaar en stem, Fries op baskitaar, Jazz Bees op die pomp, Agterkwart op die banjo en Happy Bees op dromme. Beeskraal sal hul gunstelinge soos Strate van Pretoria, Zol en Huis Toe opdis met maksimum energie. Hulle het verlede jaar die gesogte Tasmageddon Acropolis Now toekenning gewen vir die meeste skade aangerig aan mens, dier, plant en perseel.

Brasse Vannie Kaap

Die immergewilde Cape Flats Hip Hoppers, BVK, met Ready D op draaitafels en Mr. Fat op selluliet sal vir die eerste keer hul buiging by die Tassenberg Stalteater maak. BVK bring hul akrobatiese briekdansers saam, en beloof om ‘n baie energieke vertoning te lewer. Afkoel is ‘n lekker gevoel! Sien dit van naby! Laat hy op jou sweet!

Karen Zoid Band

Die blonde rocker van Gauteng is nog steeds besig met haar meteoriese opgang in die SA rock wêreld. Sy het juis haar eerste groot deurbraak verlede jaar in die Tassenberg Stal gehad en het kort daarna opgetree by die Tassenberg Innieskuur Rockfees in Napier. Karen word bygestaan deur die prins van Prins Albert, Don Reynecke, op elektriese kitaar, Dave Manchip op baskitaar en Wyn van der Walt op dromme. Karen en Don se gewilde treffers soos Afrikaners is Plesierig, Dit maak nie regtig saak nie en Taxi sal die Stalteatergangers se breins en voete laat jeuk.

Akkedis

Gatskop Afrikaanse Rock met maksimum attitude gespeel deur die hardwerkendste band in S.A. en die wenners van verlede jaar se berugte Zef-Tref Whitershade of Pyl wisseltrofee.

Die Akkedisse word aangevoer deur die Dennis tweeling , Arthur en Rudi, wat reeds langer as ‘n dekade al saam musiek maak. Treffers soos Annerkant die Berg , Cybersurferraver , Voortvlugtend en Akkers in jou Gutters sal weer gehoor word. Die Akkedisse is fiks en bruingebak in die somerson …..moeders sluit julle dogters toe !!!!

Blues Broers

Die legendariese blues-groep van Somerset-wes speel net hul eie komposisies spesiaal vir die Taskoppe. Gewilde treffers soos: I’d rather be sad than happily married, My Automobile en Electric Train sal gehoor word. Die groep bestaan uit die rooi reus Rob Nagel op bekfluitjie en baskitaar, Dave Lewarne op dromme, Albertus Vries op elektriese kitaar en stem, Simon Agent Orange op klawerbord en the one and only Doctor John Mostert op stem en maracas.

Sons of Trout

Hulle is ‘n bedrieglik briljante pop-rock groep uit die Moederstad. Die "viskoppe" kombineer uiteenlopende musiekstyle soos pop, rap, folk, metal en rock om ‘n smaaklike musiek allegaartjie aan te bied. Die groep is ook bekend vir hul suiwer harmonieë en intelligente lirieke. Die violis Mike Rennie het geen bekendstelling op die SA musiek toneel nodig nie, hy is al beskryf as die "grootste slet van die Stal" met verskynings saam met Anton Goosen, Mikanik, Laurinda et al. Die Sons of Trout se splinternuwe album, Odd Times, sal ook hier bekend gestel word.

BOO!

Flambojante pop-ikone uit Gauteng speel Monkeypunk op sy wildste. Met hoofsanger en baskitaarspeler Chris Chameleon in kruisdrag-uniform, Ampie Omo op tromboon, sintetiseerder en perkussie, en Prinses Leonie op dromme. BOO! Meng kabaret, teater en punk-rock in ‘n hoogs aanskoulike vertoning. Hulle het reeds deurgebreek in die oorsese mark en is deesdae min in Suid Afrika te siene, so moet dit nie misloop nie!

Boulevard Blues Band

Gewilde blues-groep van Kaapstad speel ‘n op-en-wakker mengsel van oorspronklike materiaal, asook blues standards van legendes soos Muddy Waters, John Lee Hooker en Buddy Guy. Die groep lewer ‘n dinamiese opvoering met die legendariese Doctor John Mostert op lead vocals.

Not My Dog

Hardekool Metal-rappers uit Wolmer is terug om ‘n totale aanslag te loods op die sintuie. Not My Dog word vandag gereken as ons sterkste metal hip-hop groep. Die musikante is almal jazz graduandi, maar verkies om die bure wakker te hou met hul klipharde geblaf. Geen sypaadjie is meer veilig nie…… vra maar die inwoners van Wolmer. Hulle sal sorg dat niemand in Oudtshoorn slaap as die Honde op straat vrygelaat word nie.

Frosted Orange

Blues-Rock maestro’s van Stellenbosch, met kitaar virtuoso Albert Frost op blueskitaar en stem en die veelsydige pianis, sanger en liedjieskrywer Simon Agent Orange op klawerbord. Jaques Vermaak op dromme en simbale sorg vir stewige ritmes uit die hart van die Blues Kontrei. Frosted Orange speel ‘n kombinasie van hul eie materiaal asook songs van blues meesters soos BB King, Jimi Hendrix, Muddy Waters en Kenny Burrel.

Diff-olie

Warm Garage Rock, vars van die werkswinkel se vloer. Nuwe Afrikaanse rockers, Diff-olie, is besig om gehore en kritici te laat regop sit met liedjies soos Rock pop en Bitter nag. Hoofsanger, Frikkie Diff-olie uit Wolmer, Pretoria, lewer ‘n kragtoer met sy stem wat gemaklik oor drie oktawe strek. Hy word bygestaan deur Double o Romeo op kitaar, SS Bester op baskitaar en O D op dromme.

Brixton Moord en Roof Orkes

Afrikaanse Rockers uit Brixton, Johannesburg. Hul musiek handel meestal oor alledaagse onderwerpe soos oorlog, drank, drugs, seks, misdaad en road rage. Hulle het ook ‘n love song, Wit Wolke. Die groep bestaan uit Brixton Barnard op baskitaar, Moord Greeff op dromme en brandewyn, en Roof Bezuidenhout op stem en kitaar. Gerugte doen die rondte dat Roof hom bedags voordoen as ‘n dosent in sosiologie aan die Brixton College vir Hervormde Sosiopate.

Wouter van de Venter

Afrikaanse Rocker van Pretoria met ‘n warm groep uit Gauteng speel Afrikaanse rock uit die heup. Liedjies soos Marie Johanna en Meneer Geweer beloof om die Stalgangers weer op hul voete te kry.

Wouter help ook gereeld kunstenaars soos Laurica Rauch met hul produksies. Pasop vir Wouter, want Wouter is ‘n stoute kabouter!

Riku Lätti

Hierdie nuweling is een van die min musikante wie se werk veilig onder Alternatiewe Afrikaanse Rock kan sorteer. Hy eksperimenteer met non-kommersiële klanke. Sy musiek kan beskryf word as eklektiese eksperimentele digitale folk-rock. Riku het die liriese vermoëns van ‘n digter en sy liedjies soos TV ster en Pakpoort is geskryf vir die nie-kommersiële mark. Dit sal sy eerste buiging by die Tassenberg Stalteater wees.

Scicoustic

Slim lirieke met seepgladde sinkopatiese rock word gekombineer om Scicoustic in ‘n klas van sy eie te plaas. Hoofsanger en liriekskrywer, Albert Meintjes, blaas vars asem in die Suid Afrikaanse rock toneel. Hul liedjie, Assassin, was vir weke nommer een op Radio Tuks. Met Gideon Meintjes op dromme, Jaco Loots op perkussie, en Mike Roy op baskitaar. Hul debuut CD, Mirrors, sal by die Stalteater beskikbaar wees.

Delta Blue

Die blues-maestro’s uit Stellenbosch maak vanjaar hul vierde buiging in die Tassenberg Stalteater.

Hulle speel ‘n uitstekende mengsel van oorspronklike materiaal, asook blues songs vanuit die Mississippi Delta. Songs van blues legendes soos Muddy Waters, Willie Dixon en Robert Johnson sal gehoor word. Hoofsanger Gerald Clarke spog nie net met stembande van fluweel en ‘n Vlambojante rooi Affro nie, maar ook met sielvolle, losgat akoestiese kitaarspel. Almuir Botha wek moeras voodoo op met sy ruggraattrillende kitaarspel.

Alida Stadtler klits die potte, Schalk Vandalis van der Merwe speel die baskitaar, en die besete Riaan Nieuwenhuys speel klawerbord.

Spinnekop

Giftige Afrikaanse Rock kom in dodelike dosisse onder leiding van Gian Groen van Grabouw. Gian Groen word wyd gereken as een van die belowende nuwe Afrikaanse rock skrywers en sy liedjies soos Tiger & Louise en Maanskyn het reeds groot populariteit behaal. Nuwe liedjies van sy eerste vollengte album, Binneland In, sal spesiaal vir die Tassies gehoor gesing word.

Battery 9

Industriële Harde-Rock groep uit Gauteng is weer na ‘n lang afwesigheid terug op Oudtshoorn. Die groep, onder leiding van die kaalkop Paul Riekert, speel nywerheidsinstrumente en implimente ewe gemaklik saam met kitare en dromme. Bekende treffers soos Twyfelaar en Frokkiepong, asook nuwe komposisies, sal gehoor word. Batterysuur op sy sterkste vir ‘n bittersoet ervaring.

Ons bedank u graag vir u ondersteuning van oorspronklike SA musiek. Indien jy vanjaar se fees bywoon, kan jy ons gerus kontak vir komplimentêre kaartjies vir joernaliste en fotograwe.

Tassiesgroete!

Sien jou by die Fees